Teen 2017 het die konsert letterlik en figuurlik ’n nuwe hoogte bereik toe dit na die splinternuwe SunBet Arena verskuif is. Die bemarking van daardie jaar het beklemtoon dat die grootste Afrikaanse konsert in die grootste arena moet plaasvind. Die SunBet Arena het verder verskeie tegnologiese moontlikhede ontsluit wat die konsert tot ’n nóg hoër standaard verhef het.
In 2018 het Die Kontrak sy ontstaan gevind – ’n musiekkompetisie waar die wenner nie net ’n platekontrak van die Coleske Groep ontvang nie, maar ook die geleentheid kry om by Afrikaans is Groot op te tree. Hierdie kompetisie het die loopbane van kunstenaars soos Demi Lee Moore, Samantha Leonard, Dodo Nyoka, Ivan Roux, Chris Steyn, en vele meer afgeskop.
Weens die Covid-19-inperkings moes die konserte van 2020 en 2021 op ys gesit word.
In 2022, met sy terugkeer, het Afrikaans is Groot ’n nuwe rekord gestel toe kaartjies binne 24 uur uitverkoop het. Die konsert het ook ’n buitelug-weergawe in Hartenbos bygekry, wat vir groot opwinding gesorg het.
In 2023 is 10 jaar van Afrikaans is Groot gevier en vanjaar is die 12de herdenking van hierdie ikoniese gebeurtenis.